Kameelperd
Giraffa camelopardis

Die naam "kameelperd" kom van die Nederlandse "kameelpaard", wat van Latyn se "camelopardus" afkomstig is. Dit beteken "kameelluiperd" omdat die dier soos 'n kameel lyk, maar vlekke soos 'n luiperd het. Die kameelperd was vroeër bekend as die "wildeperd".

Kenmerkend van die kameelperd is sy lang bene en nek met net soveel nekwerwels as die mens, maar elkeen van die werwels is 28cn lank! Die nek alleen kan meer as 270kg weeg. 'n Poot is so groot soos 'n sopbord met 'n deursnee van 20cm, soms tot 30cm. Die baie lang swart of blouswart tong kan tot 50cm lank wees (dis 'n halwe meter). Sy pels is geelwit met ligbruin blokke wat met ouderdom verdonker. Op die kop is twee horinkies en op die nek, kort maanhare. Die kameelperd se longe kan elkeen 55 liter lug bevat en die hart wat 12kg weeg klop gemiddeld 66 keer per minuut - elke kameelperd het sy eie unieke identiteit. Een akasia-spesie is na die kameelperd vernoem en party sade ontkiem net na dit deur die kameelperd se spysverteringstelsel gegaan het.

 

Buffel
Syncerus caffer

Die woord buffel kom via Portugees of Italiaans van die Latynse woord bufalus, afgelei van die Griekse boubalos wat "gasel" beteken.

Die groot beesagtige dier het by altwee geslagte groot grys horings met 'n aaneenlopende basis wat oor die voorkop strek. Die ore sit onder die horings, laer as die oë. Jong diere het 'n ligte rooibruin kleur wat verdonker met ouderdom tot'n swartgrys kleur. 'n Buffeltrop kan in die droeë seisoen tot 27km per dag aflê van hulle weiplek tot by 'n waterbron. 'n Volwasse dier kan tussen 60 en 80 liter water per dag drink. Buffels is daglewend maar wei ook tot na donker. Hulle reuk sintiog is baie goed, maar hoor en sien swak. Die buffel is 'n baie aggresiewe dier en sal leeus aanval wanneer daar 'n aanval op die trop geloods word, selfs jagters se lewens is soms in gevaar wanneer 'n buffel gekwes word.

Die eerste dieretuin buite Afrika wat die Afrika-buffel vertoon het, was die Londense dieretuin in 1839.

 

Jagluiperd
Acinonyx jubatus

Die jagluiperd is vernoem na sy jaggewoontes en die feit dat dit soos ‘n luiperd lyk. Ander Afrikaanse name is “vlaktetier” of “jagtier”. Die skraal dier wat amper soos ‘n windhond lyk kan om 7 tot 8 meter met ‘n enkele haal aflê met ‘n snelheid van tot 112 km/h. ‘n Volwasse jagluiperd het ‘n geel of ligbruin pels wat oortrek is met soliede ronde kolle, op die wit pens en keel is geen kolle. Jagluiperds het ook ‘n kenmerkende “traanmerk” wat vanaf die oë tot by die mondhoeke strek, die doel van die “trane” is om die Afrika-son se strale minder skerp te maak. Die neusgate is groot om reuse happe lug te kan inasem om sy groot longe te vul in ‘n jagtog. Hulle is ook die enigste kat wat nie sy kloue kan terug trek nie en voorsien dan stewige vastrap wanneer hy sy prooi jaag. Daar is ongeveer 9 000 tot 12 000 jagluiperds oor in die natuur. Die meeste van hulle (2 500) is in Namibië. ‘n Mens sien gereeld die jagluiperd op ‘n termiet hoop of ‘n boomstomp staan en uitkyk, die rede hiervoor is omdat die jagluiperd staat maak op sig meer as enige ander sintuig wanneer hy jag. Bekende jagluiperds wat ons almal ken is die Vrystaatse Rugbyspan wat bekend is as die Vrystaatse Cheetahs.

 

Olifant
Loxodanta africana

Die wetenskaplike naam Loxodonta is saamgestel uit die Griekse woorde loxo (skuins) en odonta (tand), dus “skuins tande”. Dit verwys na die voorkoms van die groot tande wat binne in die bek aangetref word.

Die olifant se massiewe slagtande, wat eintlik sy twee snytande is, is een van sy opvallendste fisiese eienskappe. Die vel is bruingrys van kleur, maar neem soms die kleur van die grond in die omgewing aan, aangesien die olifant “stofbaddens” neem. Die vel is omtrent kaal behalwe vir die hare op die punt van sy stert. Sy slurp is terselfde tyd sy neus en hande waarmee hy takke breek en kos na sy mond bring. Die Afrika-olifant se ore is die grootste van enige dier – met ‘n deursnee van tot 1,25 m. Sy gehoor is baie goed, veral geluide met ‘n lae frekwensie, maar hy maak eerder op sy reuksintuig staat om meer van sy omgewing te leer.

Suid-Afrika se olifantbevolking het gegroei van omtrent 120 wat op vier plekke voorgekom het – Addo, Tembe, Krugerwildtuin en Knysna – tot meer as 10 000 op 40 verskillende plekke oor die hele land.

 

Leeu
Panthera leo

 Leeus lyk baie soos ‘n groot huiskat en het baie eienskappe van die gewone huiskat, maar die leeu is die enigste lid van die katfamilie waar die mannetjie en die wyfie op grond van hul voorkoms van mekaar onderskei kan word. Die mannetjies se mees bekendste eieskap is sy maanhare wat wissel van lig blond tot donker en soms swart. Welpies het bruin kolle op hul pelse tot op die ouderdom van omtrent drie maande en soms verdwyn die kolle glad nie. Die leeu is die grootste karnivoor in Afrika en die tweede grootste katagtige dier in die wêreld, na die Siberiese tier. Daarom is die leeu ook bekend as die “Koning van die oerwoud”, maar leeus woon en jag eintlik op oop vlaktes.

Die leeu is baie opgemerk in mitologie, in Egipte is die sfinks ‘n leeuwyfie met ‘n vrouekop en –bors. Die bekendste Persoon wat beskryf word as ‘n leeu, is Christus, wat “Die Leeu uit die stam van Juda” genoem word.

 

Rooijakkals

MET VERGUNNING VAN ELZETTE DU PLESSIS

‘n Mooi jakkals wat wydverspreid deur die hele suiderlike Afrika voorkom. Hul kenmerkende roep is alombekend en hulle kommunikeer met mekaar deur middel van ‘n uitgebreide reeks geluide. Hulle is hoofsaaklik nagdiere en word alleen of in pare aangetref. Hulle is geslepe en rats en wag op die agtergrond terwyl die leeus vreet, om elke nou en dan op die karkas af te storm en ‘n stukkie te gryp. Bedags lê hulle onder ‘n bos en slaap. Die kleintjies word in ou erdvarkgate gebore na ‘n dratyd van sestig dae.

 

Komodo-Drake

MET VERGUNNING VAN ELZETTE DU PLESSIS

Met ‘n gewig van omtrent 70kg (en soms dubbel diè gewig in ‘n dieretuin) is die Komodo draak die swaarste “akkedis”. Hulle het lang lywe, goed ontwikkelde bene en ‘n gevurkte tong soos ‘n slang. Komodo’s kan vrot vleis vanaf ‘n 5km afstand af ruik. Hulle is ook kanibalisties, en dit is waarom die kleintjies meeste van hul tyd in bome spandeer. Komodo’s het in die natuur ‘n leeftyd van +/- 40 jaar.

 

 

 

 

Tuisblad Tariewe en Voordele Sluit VANDAG aan by die Vriende van die Dieretuin Projekte Aktiwiteite Nuusbrief Foto Gallery Kontak Ons Nuusflits